STEFAN LUDIK - sanger, akteur en man van vele talente…
Kort uit die BB-huis het Stefan sy debuut as akteur gemaak in die bekende komediant, Casper de Vries, se “Haak en Steek” program. Met sy terugkeer na Namibië moes hy vinnig gewoond raak aan die feit dat hy nou as nasionale held gereken word. Vinnig was ‘n uitnodiging van Franz Marx Films voor die deur en die res is geskiedenis. Sedertien was hy bekend as Werner Kranz, in M-Net se sepie, Egoli – Plek van Goud, en het hy daagliks by miljoene se huise gekuier reg oor die kontinent.
Gedurende 2008 was Stefan te sien in die aksiereeks, Transito, op KykNet, waar hy die hoofrol vertolk het in ‘n aangrypende storie van ‘n transitorooftog wat skeefgeloop het. Goeie resensies is landswyd ontvang vir die spannende reeks. Stefan was ook te sien in die gewilde SABC 2 sepie, 7eLaan, vir ‘n paar weke, waar hy die rol van ‘Roelof’ vertolk het. Sy natuurlike aanleg vir toneelspel het weereens sterk na vore gekom en hy het daardeur ‘n klomp nuwe aanhangers verower.
Sy aanhang en gewildheid het vinnig toegeneem en hy het onder meer nominasies ontvang vir “Beste Akteur” en “Beste Nuweling Musiek/Verhoog/TV” by People Magazine se Crystal Awards in beide 2004 en 2005. In 2005 het hy die toekenning as “Beste Akteur” gewen en met die 2006 Crystal Awards, het hy weggestap met die toekenning as “SA’s Hottest Hunk”. In 2005 het hy ook by die “You/Huisgenoot Spectacular” die titel as “SA se Gunsteling Manklike Akteur” ingepalm asook weggeloop met die toekenning vir die “Sexyste Man”. Hy het dit ‘n driekuns behaal toe hy einde verlede jaar die toekenning vir SA se Sexyste Man ontvang het van die webwerf Mambaonline.com Die gesogte ATKV pluimpie toekenning in 2005 en 2006 het bygedra tot ‘n verdere veer in sy hoed! Cleo Magazine het onlangs hul ‘Bachelor of the Year 2009’ toekenning gehou wat gesponser is deur Paco Rabanne, by die “Manhattan Club” in Santon. Stefan het die kompetisie gewen en met die gesogte titel weggestap asook ‘n Suzuki Swift motor en nog ‘n paar ander asemrowende pryse.
Sy liefde vir musiek kom van skooldae af en so het hy aan sy repertoires begin bou en later genoeg materiaal gehad om ‘n Demo CD aanmekaar te sit. Sy debuutalbum, Liggroen Doringbome, is einde Oktober 2005 bekendgestel en het landswyd groot opspraak gemaak weens die musiekaliteit daarvan en die feit dat Stefan al die liedjies, lirieke en musiek, self geskryf het. In middel 2007 is Stefan se tweede album, Vuur en Water, bekendgestel. Stefan het hierdie keer die album self vervaardig en, soos op die vorige album, al die liedjies self geskryf. Die betrokke album het alreeds menigte goeie resensies ontvang en doen uitstekend op radiostasies regoor die land. Die musiekvideo vir die titelsnit van die album, Vuur en Water, is in Stefan se tuisland, Namibië geskiet en het selfs opspraak oorsee gemaak deur genomineer te word vir die Eurovision se musiekvideo kategorie.
Stefan is ook ‘n trotse lid van die “Team Namibië” veldtog. Hierdie veldtog is op die been gebring met die doel om mense bewus te maak van produkte en besighede eie aan Namibië om sodoende ‘n nasie te skep wat trots is op die land, sy mense en alle oplewerings – hetsy produkte of besighede wat eg Namibies is. Stefan, wat ‘n trotse Namibiese burger is, was gevolglik die natuurlike keuse vir genoemde veldtog.
Huidiglik is Stefan die 'Brand' Ambassadeur van Bank Windhoek se Solo Projek – ‘n projek wat daarop gemik is om die jeug te leer hoe om te spaar om sodoende finansieël onafhanklik te word en om groot te droom! Met die kort en kragte vertoning, waar Stefan sing en dans, word beoog om die jeug te motiveer en om ‘n verskil te maak. Die vertoning is so goed ontvang, dat Bank Windhoek die kontrak verleng het na 2010 toe. Dit blyk aansteeklik te wees aangesien die beroemde Olthaver & List-groep, (met sy affiliaal Namibië Brouerye Ltd), hom ook gekontrakteer het vir ‘n soortgelyke projek gedurende 2008 en 2009 waar die fokus hoofsaaklik val op die motivering van hul personeel by al hulle takke regoor Namibië.
Bank Windhoek het deur alomvattende navorsing, uitgewys dat die Namibiese jeug Stefan nie alleenlik sien as ‘n tallentvolle vermaaklikheidster nie, maar veral as ikoon. Laasgenoemde word ondersteun deur ‘n onlangse publikasie van die Informante (Namibia se grootste sirkulerende koerant - 24 Julie 2008); waar hy gereken word as een van die 10 invloedrykste Namibiërs. Dit is ‘n geweldige eer, aangesien die lys bestaan uit mense soos Michelle Mclean (voormalige Mej Heelal), Frank Fredericks (voormalige 200 m Olimpiese kampioen), Trevor Dodds (voormalige VSA PGA wenner), etc. Daarbenewens het die Sunday Times (23 April 2006) na Stefan verwys as Namibia se mees gesogte uitvoerproduk, na Michelle Mclain.
Stefan se skedule is propvol. Indien hy nie besig is om ‘n tv reeks te verfilm nie is hy iewers in Suid-Afrika of Namibië besig met optredes. Hy doen ‘n verskeidenheid van optredes: soos om met gaste kuier; MC-werk wat insluit skoonheidskompetisies tesame met ‘n paar solo liedjies; ‘n vol solo show met n kitaar speler en DJ of selfs ‘n show met ‘n volle orkes...